Monumenttehuise

Nuwe tye bring nuwe uitdagings vir die Monumenttehuise van die NHSV

Die Monumenttehuise van die NHSV lewer reeds sedert 1948 diens aan ouer persone. Maar het jy geweet dat:

  • 478 persone tans in die Monumenttehuise gehuisves word?
  • 278 selfversorgend is maar 200 daaglikse versorging nodig het?
  • 162 van die inwoners tussen die ouderdom van 71 en 80 is?
  • 1100 etes per dag bedien en/of deur die dienssentrum voorsien word?
  • 289 inwoners slegs 'n staatspensioen kry?
  • 331 lakens per dag gewas word?
  • 171 volwasse doeke per dag gebruik word?
  • 4 tot 5 navrae vir verblyf en/of versorging per dag ontvang word?

Die Suid-Afrikaanse Departement van Volkswelsyn wat in 1937 gestig is, die tiende kongres van die NHSV van 1949, 'n Nasionale Kongres in 1950 in Bloemfontein gereël deur die Departement van Volkswelsyn en 'n verhoodge staatsubsidie vir die versorging van verswakte bejaardes in 1956 het alles bygedra tot die totstandkoming van die eerste Monumenttehuise, die Emily Hobhouse, Louis Trichardt en Van Rensburg Tehuise in Pretoria.

Bestuur en funksionering

Soos te verwagte is dit 'n enorme taak om die Monumenttehuise te bestuur en behoorlik te laat funksioneer. Die dag-tot-dag bestuur word behartig deur elke tehuis se bestuurder of matrone en haar personeel, terwyl die oorhoofse bestuur berus by 'n direksie en die bestuurder van Ons Tuis en Monumenttehuise. Elke tehuis het ook 'n huisbestuur en 'n inwonerskomitee wat bystand verleen, sake onder die aandag van die bestuurder bring en van tyd tot tyd aksies loods om fondse in te samel.

Die NHSV bepaal watter NHSV tak by watter tehuis as voogtak betrokke is en elke voogtak nomineer twee verteenwoordigers vir die huisbestuur. Behalwe vir hierdie belangrike deelname bring die voogtakke gereeld besoeke aan die tehuise, deel geskenkies uit, help met kruideniersware, skoonmaakmiddels, toiletware, vervoer en verversings waar en wanneer nodig. Bydraes tot en reël van spesiale etes en funksies maak deel uit van die voogtakke se taak.

Die Monumenttehuise van die NHSV is 'n Artikel 21-maatskappy, dws 'n organisasie sonder winsbejag. As sodanig mag die Monumenttehuise fondse insamel onder die fondsnommer 001-938 NPO. Die NHSV as organisasie dra finansieel by tot die bedryfskoste van die Monumenttehuise.

Die tehuise

Die Monumenttehuise van die NHSV bestaan tans uit:

  • Emily Hobhouse-Monumenttehuis in Capital Park, Pretoria wat reeds 54 jaar lank bestaan
  • Louis Trichardt-Monumenttehuis in Danville, Pretoria wat sedert 1957 bestaan
  • Van Rensburg-Monumenttehuis, in Danville, Pretoria wat sedert 1959 bestaan en ook sorgafhanklike bejaardes huisves
  • Piet Potgieter-Monumenttehuis in Mokopane (Potgietersrus), wat in 1965 gestig is en behuising voorsien sowel as versorging aan sommige inwoners
  • Andries-Marie Oosthuizen-Monumenttehuis in Parys wat sedert 1985 bestaan en behuising voorsien sowel as versorging aan sommige inwoners
  • Tafelbergertehuis in Monte Vista, Kaapstad wat sedert 1982 in bedryf is en sewe selfversorgende persone huisves.

By die Louis Trichardt en Van Rensburg tehuise is daar ook 'n Dienssentrum wat onder andere 480 etes per maand aan persone uit die omgewing voorsien.

Wat maak die Monumenttehuise anders?

Ja, die basiese behoeftes vir kos, klere, medisye, ens is steeds daar, maar dit is juis in die voorsiening van ander behoeftes waar die NHSV en sy voogtakke 'n leeue-aandeel het. Behalwe die fisiese en finansiële behoeftes van bejaardes is daar ook emosionele, spirituele, sosiale en intellektuele behoeftes asook behoeftes wat met die omgewing van die bejaarde te doen het. Dit is veral op hierdie terreine waar die NHSV so 'n groot rol speel. Die NHSV se voogtakstelsel maak die Monumenttehuise uniek in Suid-Afrika.

Nuwe uitdagings

Die lewe van vandag verskil ingrypend van die lewe in die middel van die vorige eeu toe die meeste van die tehuise tot stand gekom het. Ook die leefwêreld van die bejaarde verskil vandag radikaal van destyds.

Nie net word bejaardes heelwat ouer nie, maar hul behoeftes verskil ook. Vir bejaardes van 1950 was dit belangrik om toegang tot radio's en telefone te kon hê, vir vandag se bejaarde is die TV en selfoon onontbeerlik en vir die bejaarde van die afsienbare toekoms sal rekenaars, Internetoegang en epos-fasiliteite gladnie meer 'n luukse wees nie maar heel waarskynlik 'n noodsaaklikheid. Vroeër het bejaardes betreklik jonk hul sig verloor en het gou huisgebonde geraak, maar vandag is lensoorplantings redelik algemeen en besoek meer bejaardes van hoë ouderdom winkelsentrums, teaters, plekke van historiese belang, ens.

Deur die jare het die versorging van die bejaarde voortdurend verander en aangepas terwyl liefdevolle diens steeds gelewer word. Net so sal die moderne lewe en die uitdagings wat dit bied ook neerslag vind in die lewe en versorging van bejaardes. Niemand wat dus by barmhartigheidsdiens ten opsigte van die bejaarde betrokke is, kan ooit sê die werk is afgehandel nie. Veranderende tye bring nuwe uitdagings vir die Monumenttehuise.

Die NHSV is egter nie die enigste organisasie wat 'n taak ten opsigte bejaardes het nie. Elke gemeente, elke gemeentelid word opgeroep om betrokke te raak by die NHSV se tehuise vir bejaardes. Skakel gerus die tehuis naaste aan jou en vind uit wat jy kan doen om die lewe vir bejaardes aangenamer en geriefliker te maak.

U kan meer inligting oor die Monumenttehuise verkry by telefoonnommer 012 325 1857.

(Hierdie artikel het in Konteks van Mei 2011 verskyn en is geskryf deur Magda van Deventer. Dit word hier gepubliseer met toestemming.)

 

In 'n neutedop

Wie is ons? Monumenttehuise lewer vanaf 1948 'n diens aan die gemeenskap.  Verskeie dienste word aan die bejaarde persoon in die gemeenskap gelewer vanaf 24-uur versorging tot behuising.

Omdat Monumenttehuise 'n nie-winsgewende organisasie 001-938 NPO is, is donasies altyd welkom!
 

Bankbesonderhede:

Eerste Nasionale Bank

Tak:  Kerkplein

Takkode:  251-445

Rekeningnommer: 51420066130

 

Gedagte vir die week


"Twee dinge is noodsaaklik vir 'n gesonde gees: die vermoë om lief te hê en die wil om te werk" (Sigmund Freud)

Wenslysie

Machteld Postmus Kompleks benodig items vir hul rommelverkoping op 3 Mei.

Van Rensburg Tehuis benodig die volgende vir hul arbeidsterapiesessies:

  • Balle van verskillende groottes vir oefening
  • Netbal-/basketbalring wat teen 'n paal vasgesit kan word
  • Gewigte/"dumbells", 1 en 2 kg
  • Musiekinstrumente (dromme, klokkies, maraka's, tamboryn)
  • Seepborrels
  • Sagte lekkers, suigstokkies, sjokolade, ens vir pryse
  • Wol, "chunky" en "double knit"
  • DVD's oor die natuur, diere, ens.
  • Boeke in groot druk
  • Aktiwiteitsboeke met woordspeletjies (verkieslik in grootdruk)

Belangrike datums

31 Mei: Emily Hobhouse – Wegneemeteverkoping
31 Mei: Seniorstuis Dienssentrum – Wintermark
4 Junie: Machteld Postmus Kompleks – Potjiekosaand
7 Junie: AMOT – Gholfdag
13 Julie: Emily Hobhouse – Sop en sjerrie
19 Julie: Machteld Postmus Kompleks – Sop en Sjerrie
9 Augustus: Emily Hobhouse – Erica Volkspelelaer
23 Augustus: Louis Trichardt – Mandjiedans
30 Augustus: Emily Hobhouse – Wegneemeteverkoping
13 September: Machteld Postmus Kompleks – Lentefees
27 September: AMOT – Jaareindfunksie en spanbou vir personeel
29 September: AMOT – Jaareindfunksie vir Admin-personeel
11 Oktober: Emily Hobhouse – Lentebraai
11–13 Oktober: AMOT – Pannekoekbak
31 Oktober: Emily Hobhouse – Wegneemeteverkoping
31 Oktober: Machteld Postmus Kompleks – Jakarandajubel
1 November: Seniorstuis Dienssentrum – Kersmark
2 November: Piet Potgieter – Brille en Pille Rally en Basaar
8 November: Ons Tuis – Kersfunksie
9 November: Van Rensburg Tehuis - familiedag met Fredie Nest
15 November: Machteld Postmus Kompleks – Kersete
22 November: Van Rensburg Tehuis - Kerssangdiens met Jan de Wet
23 November: Louis Trichardt - Kersete
26 November: Emily Hobhouse – 30 jaar oud
4 Desember: AMOT – Kersete vir inwoners